Press

Unisa Music Foundation recital, 23 November 2014

Bekorende resultaat van artistieke groei

Paul Boekkooi

Zanta Hofmeyr (viool) en Malcolm Nay (klavier)  Enoch Sontonga, Unisa, Pretoria

Die Franse Barokkomponis Jean-Marie Leclair se dood 250 jaar gelede en die viering van die Duitse komponis Richard se geboorte 150 jaar gelede was twee historiese ankerpunte in Hofmeyr en Nay se uit voering.

Die immer begeesterde samewerking tussen die musici was weer, soos van ouds, soos ‘n goue draad teenwoordig. Ook die artistieke groei  tussen hulle was veral opvallend in Strauss se Sonate in E-mol, opus 18, wat hulle laas in 2009 in die ZK Matthews-konsertsaal in Pretoria uitgevoer het.

Al is dit ‘n jeugwerk, bewys dit Strauss se enorme vaardigheid rondom alle tegniese en stilistiese aspekte. Laasgenoemde vertoon, naas eerbied vir tradisie, ook reeds heelparty persoonlike trekke. Anders gestel : Ons hoor reeds “voorklankings” van hoe tipiese gedeeltes van sy orkeswerke en operas later as eie aan Strauss na vore sou kom.

Die sonate stel hoe eise ten opsigte van virtuositeit en musikaliteit aan die violis en pianis. Reeds in die Allegro ma non troppo, waarmee dit open, is dit duidelik dat dit orkestraal bedink is. In die uitgesponne ekstatiese melodieopbouings daarvan word aan die pianis voortdurend meerstemmige akkoorde toegewys, terwyl die violis die grootse sangtemas met ‘n intense deurlopende lyn moet bly belig. Kort daarna het die menslike stem immer vir Strauss bly wink.

In die werk as geheel gaan Hofmeyr en Nay fassinerend te werk. In die Andante, wat die kwaliteite van ‘n “lied sonder woorde” besit, was dit uit hul liries-peinsende spel duidelik waarom die “improvisasie” later ook ‘n selfstandige lewe begin lei het.

In ‘n passieryke middelgedeelte herinner die klavier jou kortliks aan Liszt. Terwyl, kort  daarna, ‘n uitgebreide fragment tussen die twee intrumente weer herinner aan die verfynder en intieme virtuositeit inherent aan Chopin. Strauss laat na ‘n sombere, swaarwigtige inleiding al sy energie in die Finale los. Die komponis se jeugdige impulsiwiteit is briljant, met kragtige toongehalte, vry en uitbundig voorgedra. ‘n Mens waardeer Nay se eerlikheid dat hy die klavier se grillerige kontoere nie soos passende dekorasies laat klink nie; ook vir Hofmeyr dat sy nie die vlak van virtuositeit bloot soos welluidende versieringe laat klink nie.

Leclair se bekende Sonate in D, opus 9, no. 3, het die program ingelui. Albei musici toon ‘n gevorderde stylgevoel vir Barokmusiek, met Hofmeyr wat in al vier die dele die leiding neem met gloeiende verbeeldingskrag wat deurlopend boei.

Beethoven se oorwegend stormagtige, noodlotgedrewe vierdelige Sonate in c, opus 30, no. 2, is in alle opsigte oortuigend uitgevoer. Vroeg in Hofmeyr se loopbaan was haar Beethoven- spel in ‘n werk soos die vol van rustelose energie, met ‘n frontale toonvorming, forse stokvoering en ietwat oordrewe aksente redes daarvoor dat gevoelsinhoud en kleuring selde optimaal bereik is. Nou is alles aanwesig. Wat ‘n verskil maak ‘n rypwordingsproses!

 

Zanta

Zanta Hofmeyr Press

Upcoming Events

The Wits Trio will perform...
Thursday, 10 August, 2017 - 02:00
Zanta Hofmeyr en Charl du...
Sunday, 13 August, 2017 - 11:30
The Wits Trio will once again...
Sunday, 20 August, 2017 - 20:00
The Wits Trio will perform...
Sunday, 17 September, 2017 - 15:00