Press

Wits Trio tref met Brahms as debuut

Waarom hou so 'n hoë persentasie van musiekliefhebbers van Johannes Brahms se werk? Hy was 'n beskermling van die klassieke tradisie én 'n voorbeeld vir die avant-garde. 'n Lewensgenieter én melankolikus. Geniaal, en tog vol selftwyfel. 'n Man van vele gesigte. By die stampvol debuutkonsert van die Wits Trio was 'n mens verheug dat die drie musici – Zanta Hofmeyr (viool), Maciej Lacny (tjello) en Malcolm Nay (klavier) – Brahms gekies het om dié geskiedkundige oomblik te vier met sy Klaviertrio no.1 in B, opus 8, uit 1854.
Luister jy vandag daarna, dan sou die meeste van ons verklaar dat dit net so ryp en volwasse as laat-Brahms klink. Die uitgawe wat die Wits-drietal uitgevoer het, was egter nie die oorspronklike 1854-weergawe hiervan nie, maar 1888 se hersiening. Talle Brahms-partiture se probeersels is in sy koolstofie verbrand. Dié een het dit, 34 jaar ná sy eerste verskyning, ontsnap.
Dié trio is veelvlakkig geïnterpreteer. Dit het die vele gesigte van die komponis ryklik geïllusteer. Samespel was homogeen en die wisselende sfeer in al vier die dele is raak getref. Imposant was die subtiliteit van die strykers se pizzicato-spel, die sprankeling waarmee die pianis 'n gebroke akkoord laat opklink, en hoe al drie mekaar dermate aanvoel dat 'n organiese geheel ontstaan. Kontraste is subtiel geaksentueer, maar nooit oordryf nie.
Die openings-Allegro con brio is struktureel meesterlik verwesenlik, terwyl die Scherzo in gees en in sy dieperliggende ontginning tydens die trio-gedeelte die komponis se ontwikkelende stylbemeestering geïllustreer het. Die Adagio het merendeels 'n ekstatiese intimiteit uitgestraal – bowenal in dié onderdele waar die klavier sy katedraalagtige passasies kon laat gedy. Hierna was die slot-Allegro gevul met afwisselende karaktertrekke.
Ná pouse, in Dvorak se Trio in e, op. 90 – Dumky – val die kollig in 'n mate ook op sterker individuele spel. Dit was duidelik dat die musici hier elke stemming en tempovoering volkome beheer het met hul lewendigheid, maar ook virtuositeit en selfs onstuimigheid. Dit kom nouliks tot sy reg sonder dat die rapsodiese en volksliedagtige idiom duidelik afgeëts word. Presies dit gebeur hier.
Die meditatiewe en pastorale episodes vind steeds 'n sterk teëwig in skerp ritmiese en uiters gepassioneerde fragmente. Sowel die individuele as die kollektiewe funksies is noukeurig vasgestel en in die spel oorgedra. Mag die Wits Trio ons nog lank meevoer na ontdekkingstogte wat ook die uithoeke van die klaviertrio-repertorium insluit. Wits Trio – Atrium, Wits

Zanta

Zanta Hofmeyr Press

Upcoming Events

The Wits Trio will perform...
Thursday, 10 August, 2017 - 02:00
Zanta Hofmeyr en Charl du...
Sunday, 13 August, 2017 - 11:30
The Wits Trio will once again...
Sunday, 20 August, 2017 - 20:00
The Wits Trio will perform...
Sunday, 17 September, 2017 - 15:00